Litnet interview by Lien Botha

Kunsonderhoud vir Litnet met Barbara Wildenboer oor The Lotus Eaters
2014-07-21

Die visuele kunstenaar Barbara Wildenboer se jongste solo-uitstalling was deel van die hoofprogram by die 2014-Vryfees en sal deur die loop van die jaar by verskeie galerye in Suid-Afrika te sien wees. Sy gesels met Lien Botha oor haar kuns.

Die titel van jou uitstalling is in die kol en voel vir my na ’n logiese voortsetting van die medium en onderwerpe wat jy reeds in die verlede met onder andere Everyday Alchemy (2006), The Library of the Infinitesimally Small and the Unimaginably Large (2011) en Disjecta Membra (2013) aangeraak het. Hier swem jy nou saam met reuse soos Homeros, Monet, Tennyson, Wharton en Alexandra McGuinness. Op watter stadium van die proses het die blommevreters op jou skouer kom klop?

Mitologiese temas het nog altyd op een of ander manier as interteks in my werk na vore gekom. As kind het ek reeds ’n groot liefde vir die verhale van Griekse mitologie gehad en toe ek ’n student was, was Engelse literatuur een van my hoofvakke. Ek was net oor ’n jaar terug op ’n kunstenaarsverblyf op Penang-eiland in Maleisië. Dis hier waar die idee vir die uitstalling ontkiem het. Een van die grootste aantrekkings van Penang is die talle waterleliedamme en die groot waterval wat in die Penang Botaniese Tuin geleë is. Die waterval het indertyd as ’n belangrike varswaterbron gedien vir skepe wat in die 19de eeu by die eiland se hawe aangeland het. Die kombinasie van die waterlelies en die waterval het my laat dink aan Odusseus se manne wat na die land van die lotusvreters gegaan het om vars drinkwater te soek. Van daar het verskillende assosiasies met die kunste, literatuur en wetenskap gevloei.

In die katalogus beskryf Emily Brady die werk as volg: “Barbara Wildenboer’s ’The Lotus Eaters’ presents an elemental journey through humanity’s effects on the earth through space and time, expressing ideas about environmental tragedy, human apathy, and the play of control and our inability to control our interactions with the environments we inhabit and consume.” Teoretiese ontledings is dikwels ’n uitdaging vir die kunskyker. Dit kan werk belig en help met die “lees” daarvan, maar soms is die akademiese koeterwaals intimiderend. Die essays in jou katalogus is knap, maar vertel ons tog asseblief in ’n neutedop waaroor jou uitstalling gaan en in watter  mate dit ’n voortsetting is van soortgelyke temas wat jy reeds in die verlede ondersoek het al dan nie.

Die werk gaan hoofsaaklik oor ons komplekse verhouding met water en die wyse waarop dit verskillende lewensvorme beide op mikro- en makrovlak  verbind – in die fisieke en metafisiese wêrelde. Spesifieke temas soos ’n belangstelling in omgewingsestetika, die verhouding tussen fotografie en die versameling, literêre verwysings en verwysings na alchemiese prosesse spruit uit idees wat ek in vorige werk ondersoek het.

 

Wat vermoed jy gaan deur die gedagtes van ’n besoeker wat jou werk besigtig?

Ek kan maar net raai. Maar wat ek voor hoop, sal wees dat dit iets is wat aansluit by my verwondering aan die ingewikkelde patrone en die balans tussen die chaotiese en die ordelike wat mens in die natuur vind. Ek is gefassineerd deur die wyse waarop vorme in die natuur herhaal word, vanaf die kleinste organismes tot enorme sterrestelsels. Alles blyk intergekonnekteerd te wees. Ek sou ook hoop dat dit vir die besoeker ’n spel word waarin hulle na die verskillende interkonneksies en assosiasies soek.

Jou skakel met ’n skrywer soos Masaru Emoto is veelseggend op verskeie vlakke. Hier bespeur mens die aanspraak van fotografiese prosesse soos Fox Talbot se Photomicrograph of the wing of a moth (1839–1841), vergeleke met Emoto se waterkristalfoto’s en jou reeks Prayer, Parascience and Polluted Water. Waar rus die fokus vir jou binne hierdie gelaaide wetenskaplike metafoor?

In Prayer, Parascience and Polluted Water is die fokus vir my op die verhouding tussen ooglopend teenstrydige velde van die wetenskappe en dié van estetika, maar ook op die verhouding tussen die empiriese aard van wetenskap teenoor die onverklaarbare misterie van die metafisiese wêreld.

Dit is verblydend om te sien dat ’n eietydse Suid-Afrikaanse kunstenaar sukses behaal met werk wat nie by die deurgetrapte temas van (byvoorbeeld) sosiopolitieke dokumentasie inskakel nie. Waaraan sou jy hierdie sukses toeskryf?

Die bewustheid van ’n omgewingspolitiek behoort net soveel aandag te kry as ander kwessies. Dit beïnvloed ons tog op alle vlakke van ons menswees. Ek dink mense begin besef dat omgewingsestetika net so belangrik is vir menswees as ander sosio-ekonomiese problematiek.

Daar is ’n “Linnaeus-bende” aan die woeker – heelwat hedendaagse kunstenaars ontgin die botaniese tema op verskeie en opwindende maniere, soos onder andere die Marokkaanse kunstenaar Mohssin Harraki met sy reeks Graft, Trellis, Tame, Janet Laurence met oa Cellular Gardens, en Alberto Baraya met Herbarium of Artificial Plants. Is daar enige van soortgelyke kunstenaars by wie jy aansluiting vind of met wie jy in gesprek is?

Anya Gallacio se werk het my nog altyd geraak. Sy werk met verganklike materiaal soos vrugte, blomme, plante en selfs ys, en dikwels ondergaan haar materiaal een of ander transformasie gedurende die verloop van die uitstalling. Die sistematiese en kwasiwetenskaplike wyse waarop kunstenaars soos Mark Dion en Gabriel Orozco werk, is ook iets waarby ek aanklank vind.

Daar is 3 000 0rigami-bootjies wat deel vorm van die werk Wishes. Hoe lank het die vouproses geneem, wie het jou daarmee gehelp en waar het jy die bladsye van Homeros se Odyssey vir al die papierbootjies gevind?

Ek vind die meeste van die boeke waarmee ek werk, by liefdadigheidsorganisasies se tweedehandseboekwinkels, soos Help The Rural Childin Mowbray. Dit het ongeveer ’n dosyn boeke vereis om die bootjies te maak (en dit was per toeval ook die aantal skepe in Odusseus se vloot). Ek het om en by winter 2013 begin vou. Almal het gehelp – my kinders, studente en kunstenaarsvriende. Ek sal by iemand se huis aankom op ’n Saterdagaand en so tussendeur die rooiwyn sou ek almal kry om te begin help met vou. Ek was nogal verbaas hoe gewillig mense was om papierbootjies te vou.

Jy maak korte mette van papier se vermoë as skeringsdraad en dit word baie goed opgesom deur Michelle Prévost  in haar essay “The Art of Spinning or the Spinning of Art: Alchemism and Other Survival Strategies”. Soms is die tasbare kwaliteit van jou werk meer ooglopend as ander tye. Tog voel dit vir my of die werk Water Thief (am and pm) ’n groot (noodwendige) sprong vorentoe is. Gaan jy in die toekoms meer met soortgelyke fotografiese samestellings werk?

Water Thief (am and pm ) is die werk waarmee ek die meeste geworstel het en is vir my ook die werk waarmee ek voel ek die meeste deurbrake gemaak het, op beide ’n tegniese en ’n konseptuele vlak. Die oppervlak van die water, die wolke wat daarop weerkaats, die enkele vissies, plantwortels en gesonke papierbote onder die watervlak, asook die lelieblare wat daarop dryf, behou nog steeds die kompaksie wat in my papierskonstruksies te vinde is. Daar is nou egter verdere tydlae, as gevolg van die prentvlak wat in 24 vlakke – vir die ure van die dag –  opgedeel is.

In watter mate beïnvloed die gevoelswêreld jou werk – sintuiglik vs serebraal? Dit wil voorkom of daar ’n sterk wiskundige element in die uitvoering daarvan aanwesig is. Soms dink ek dat jy met gemak ook ’n wetenskaplike nering sou kon gevolg het. Hoe voel jy oor so ’n stelling?

My pa was al die jare nog ’n wiskundeprofessor by UP, dus was wiskunde en wetenskap nog altyd redelik op die voorgrond in die huis waarin ek grootgeword het. Dis ook hy wat my vir die eerste keer bewus gemaak het van die idee van wiskunde as ’n taal. En dis ook beslis in ’n opsig die taal van natuur. Mens sien dit orals, van Fibonacci-spirale tot Mandelbrot-fraktale. Wiskunde bied ’n wyse waarop ons kan begin om op ’n manier ’n begrip te vorm van die heelal, tyd, energie en materie.

 

Wat is volgende?

Alhoewel papierkonstruksie nog altyd ’n groot deel van my werk gevorm het, begin die fotografiese samestellings en animasiewerk al hoe meer moontlikhede vir my bied. Ek beoog om die media toenemend te ontgin as ’n eksperimentele poging om sin te maak van die misterieuse wêrelde wat die wetenskappe aan ons openbaar.